Warrior-For-Christ

Archive for March 3rd, 2008

Belofte van die Here

with one comment

2 Kronieke 7:13-15 As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder My volk instuur, en My volk oor wie My Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na My wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land herstel. Ek sal hierdie plek nou onder sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan.

As jy vandag daar is waar die sprinkane besig is om jou lewe kaal te vreet of as jy ‘n droogte in jou lewe ervaar, is dit tyd dat jy ernstig ‘n voorraadopname doen van jou lewe.Dit gebeur so maklik dat ons wegdwaal  van God; dat ‘n mens afdwaal van Sy pad en dan skielik eendag besef dat jy jouself tussen die dorings en dissels bevind – dat jy uit “tune” uit is met God se wil. In 2 Kronieke 6 vra Salomo dat God tog genade moet hê met die volk  van Israel en tog voorsiening moet maak vir wanneer hulle sondig. Hierop antwoord God en stel Hy vier vereistes vir Sy vergiffenis.

Eerstens, dat ons in nederigheid ons sonde voor Hom moet belei. Dit is seker een van die moeilikste dinge om te doen, want baie keer lyk ons sondes so klein teen dié van ander mense en is dit so maklik om te probeer om die blaam daarvoor te probeer afskuif op iemand anders.

Tweedens, dat ons tot God sal bid en  Sy vergiffenis sal soek.

Derdens, dat ons na Sy wil sal soek vir ons lewens.

Laastens, dat ons sal wegdraai van ons sondige paaie en sal terugkeer na Sy weg.

Gebed: Here ek erken vandag dat ek soms toelaat dat daar dinge tussen my en U inkom; ek erken dat ek toegelaat het dat my verhouding met U afgekoel het; ek erken dat ek nie altyd meer so opgewonde oor U dinge is as wat ek eens was nie; ek erken dat ek soms toelaat dat my onsekerhede en my twyfel ‘n verwydering tussen ons veroorsaak; ek erken dat my besige skedule en gejaag my weghou van U dinge; ek erken dat ek soms toelaat het dat die duiwel twyfel in my hart saai; ek erken dat ek nie altyd U wil vir my lewe wil aanvaar nie; ek erken dat ek soms my eie begeertes en behoeftes bo U s’n en die van ander plaas; ek erken dat ek soms op my eie krag staatmaak om probleme op te los en my totale afhanklikheid van U misken; ek erken dat ek soms mismoedig raak as ek nie dadelik ‘n antwoord op my gebede kry nie; ek erken dat ek soms so gefokus is op my eie probleme dat ek nie die probleme van ander raak sien nie; ek erken dat ek soms so maklik oordeel; ek erken dat ek nie altyd ‘n Christus voorbeeld stel nie; ek erken dat ek so maklik ongeduldig raak as dinge nie gaan soos ek wil hê nie; ek erken dat ek nie altyd my môres in u hande los nie…

Here vergewe my – ek is só volkome afhanklik van U.

Written by Warrior-For-Christ

March 3, 2008 at 12:33 pm