Warrior-For-Christ

Archive for Januarie 2008

Jesus is volkome in beheer

leave a comment »

Matteus 8-9

In Matteus 8 en 9 getuig Matteus van die wonderwerke wat Jesus gedoen het. Hy genees onder andere ‘n melaatse man en Petrus se skoonmoeder, Hy maak ‘n storm stil op see en dryf bose geeste uit twee mense in Gadara, en later nog wek Hy die dogter van ‘n raadslid op uit die dood.

Al hierdie verhale demonstreer dat Jesus ten volle in beheer staan van elke faset van ons lewens en alles rondom ons – self die natuurkragte, bose geeste en die dood.

Omdat ons hierdie verskering het, hoef ons derhalwe ook as Sy kinders niks te vrees nie – want Hy ken alreeds die diepste begeertes van ons hart, Hy ken ons pyn en ons nood. Nog beter, Hy kan ons omstandighede verander – plaas Hom vandag onvoorwaardelik in beheer van jou lewe en weet verseker dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Romeine 8:28).

(Idee: Prof Hennie Stander, Juwele uit die Bybel, Carpe Diem Media, 2007)

Written by Warrior-For-Christ

Januarie 24, 2008 at 10:29 vm

Geroep tot heiligheid II

leave a comment »

1 Petrus 1:14-15  As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, net soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle lewenswandel heilig wees.

Vir drie dae nou bring God aan my dieselfde boodskap – leef soos die nuwe mens wat jy bely jy is. Gister en eergister uit Hebreërs en 1 Petrus en vandag uit Kolossense 3.

Kolossense 3:5, 9-10  Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewens is… julle het met die ou sondige mense en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.

Kan jy vandag in alle eerlikheid sê dat jy al jou ou gewoontes en giere en geite afgesterf het en dat jy leef na die perfekte voorbeeld van Jesus – of ten minste opreg streef daarna.

Ons kan nie, en mag nie, as nuwe mense in Jesus Christus nog steeds die karaktereienskappe van die ou ek en jy behou nie. Alhoewel ek glo dat dit nie ‘n eenmalige gebeurtenis is nie, is dit ‘n proses waartoe ons onsself daagliks moet verbind (iets waarna ons dag in en dag uit doelbewus moet streef) en waaraan ons ten volle deel moet hê. Dit is ‘n verpligitng en verantwoordelkheid wat op ons gelê word om daagliks te lewe met jou oë gerig op Jesus Christus.

Ons roeping tot heiligmaking beteken nie dat ons eensklaps sonder sonde en fouteloos sal wees nie, inteendeel, glo ek, dat solank ons leef ons in ‘n stryd gewikkel sal wees met ons ou, sondige natuur. Maar, net só, en meer nog, sal ons egter ook groei in Jesus Christus – groei na heiligmaking in ons lewenswandel – as ons fokus reg is.

Gebed: Here, help my om hierdie aardse dinge wat nog deel is van my lewe en wat my weghou van U volmaaktheid te identifiseer en agter my te plaas sodat ek volkome ‘n nuwe mens kan word in U.

Written by Warrior-For-Christ

Januarie 19, 2008 at 10:35 vm

Hou jou oog op Jesus I

leave a comment »

Hebreërs 12:1-2 …laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons só maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinding van die geloof.

‘n Christelike lewe vereis harde werk en volharding. Dit vra dat ons alles wat ons verhouding met Christus negatief kan beïnvloed en ons aandag van Hom mag aftrek moet afsterf en dat ons moet stry teen ons sondige natuur met die krag van die Heilige Gees.

Om reg (en opreg) te lewe, vereis dat ons ons oog moet hou op Jesus en die voorbeeld wat Hy deur Sy lewe gestel het, want dit is seker dat ons sal struikel as ons versuim om dit te doen. Dit is so maklik om te struikel wanneer ons fokus gerig is op onsself en ons eie probleme. Waarop jy jou oog instel, maak jy jou hart voor oop. Gelukkig kan ons kies waarop ons ons lewens wil fokus en daardeur self die kwaliteit daarvan bepaal – die ultimate prys wat op ons wag is die Ewige Lewe met Hom.

Is jou oë vandag gerig op hom?

Gebed: Here, help my om die negatiewe stemme van die wêreld, die negatiewe stemme van vertwyfeling en vrees, die negatiewe stemme van onsekerheid af te sluit, sodat ek op U alleen kan fokus. U is die bron van my krag en my inspirasie, U is my Helper, U is my vrede.

Written by Warrior-For-Christ

Januarie 17, 2008 at 1:10 nm

Hou jou Swaard skerp

with one comment

Hebreërs 4:12 Die Woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as ‘n twee-snydende swaard.

Wie ons ookal is, is ons verseker dat versoeking in veskeie vorme weer en weer op ons pad sal kom. Ons het egter ook die versekering dat gewapen met die kennis van God se Woord, ons dit kan afweer en aanvallend terug kan slaan (vgl . Efesiërs 6:17).

So sal die duiwel byvoorbeeld by jou kom wanneer jy fouteer het en sê, “Jy het (alweer) gefaal, vir jou is daar geen verlossing nie.”

Dan trek jy die Swaard van die Gees (die Woord van God) uit en antwoord, “Nee, dit is nie so nie. In 1 Johannes 1:9 staan daar geskryf as ons ons sondes bely, is Hy getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Dan antwoord hy, “O nee, jy is verkeerd – God verdoem jou!”

En jy kap terug, “Nee, weereens is jý verkeerd want in Romeine 8:1 is geskrywe dat daar geen veroordeling is vir dié wat in Christus Jesus is nie – die Gees het jou die lewe gegee in Jesus Christus en maak jou vry van die sonde en die dood.”

Nou ‘n bietjie versigtiger sê hy, “Wag maar, jy gaan weer struikel in die sonde en dán gaan ek jou kry.”

Laggend antwoord jy, “O nee, nooit nie want in Johannes 10:28 sê Jesus self -Ek gee hulle [my skape] die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niémand sal hulle uit my hand ruk nie.”

Begin daarom vandag die Woord van God ken, en hou op dié manier jou Swaard skerp vir Hom. Daar is geen ander manier om God te leer ken as deur Sy Woord nie.

(Idee: Pastoor Greg Laurie, Harvest Ministries)

Written by Warrior-For-Christ

Januarie 10, 2008 at 11:24 vm

Spore

with one comment

Spreuke 10:7 Die nagedagtenis van dié wat reg doen, leef voort; die naam van dié wat verkeerd doen, word gou vergeet.

Ek lees gisteraand die volgende onder Dissipelskap in die Bybel vir die Lewe 24/7 (Lux Verbi.BM, 2006) – “Oral waar jy gaan los jy spore. Mag jou spore dit vir ander makliker maak om die Here te volg.”

Laat ons vandag só leef dat ander Christus in ons sien.

Written by Warrior-For-Christ

Januarie 7, 2008 at 8:26 vm

Vetrou volkome op God

with one comment

Eksodus 14:13-14 Moenie bang wees nie, staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red… Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.

Hoe maklik word ons nie kleingelowig as gevaar dreig of verval ons in twyfel wanneer daar ‘n krisis in ons lewens dreig nie. Ten spyte hiervan het die Here nog elke keer uitkoms gegee en gehelp in nood. Dit laat my baie dink aan wipplank ry, met die siklus wat wissel tussen laagtepunte van vertwyfeling wanneer daar probleme in ons lewens is en die hoogtepunte van dankbaarheid wanneer God dan telkens intee om ons te red uit ‘n situasie.

Die NIV Life Application Study Bible (Tyndale House Publishers and Zondervan, 2005) sê dat dit in die tye van benoudheid is wanneer ons die “Moses Attitude” moet aanneem waarna daar in Eksodus 14: 13 & 14 verwys word – “Stand firm and see the deliverance the Lord will bring!”

Ons moet leer om God onvoorwaardelik te vertrou met ons alles – ons hele lewens – al lyk dit soms of jou omstandighede jou gaan oorweldig en daar geen uitkoms moontlik is nie. Dink dan aan al die vorige kere wat Hy jou gehelp het – nét so sal Hy jou weer help. Bly kalm, staan vas in die geloof (al is dit soms moeilik) en kyk met afwagting hoe die Here jou gaan red – watter wonderwerk hy volgende in jou lewe gaan verrig.

Written by Warrior-For-Christ

Januarie 4, 2008 at 11:01 vm

Jaareinde

leave a comment »

Jesaja 41:10 Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. Fear not [there is nothing to fear], for I am with you; do not look around you in terror and dismay, for I am your God, I will strengthen and harden you to difficulties, yes, I will help you; yes, I will hold you up and retain you with my [victorious] right hand of rightness and justice.

Aan die einde van nog ‘n jaar en ‘n mens kyk onwillekeurig terug na die jaar wat verby is – 2007. Ongelukkig is dit vir party mense ‘n terugblik op mislukkings, teleurstellings en terugslae wat veroorsaak dat ‘n mens die nuwe jaar met onsekerheid en vrees tegemoet gaan.

Ook vir my was daar terugslae in 2007, maar ek gaan die toekoms tegemoet met die versekering en die belofte dat wat ook al in my lewe gebeur ek nie bang hoef te wees nie, nie bekommerd hoef te wees nie want God is met my. Hy beskerm en bewaak my en skenk my Sy vrede.

Laat Hom vandag met vertroue toe om jou Gids te wees in 2008. Soek Hom in hierdie nuwe jaar en jy sal hoër hoogtes beleef as ooit tevore.

Written by Warrior-For-Christ

Januarie 2, 2008 at 7:19 vm

Gebedsversoek

with 2 comments

Ons het u hulp nodig in gebed. ‘n Goeie vriendin van ons (en getroue kind van die Here) is onlangs met kanker gediagnoseer en is tans baie siek en verkeer in groot pyn. Ons wil u smeek om vir Elmé te bid en deel te maak van u gebedslys. Baie dankie by voorbaat. 

Written by Warrior-For-Christ

Januarie 2, 2008 at 5:14 vm

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.